Ek dank die Vader vir baie vriende wat my so mooi bemoedig

Ek het vir baie jare gepreek. Ek het al begin toe ek in die laerskool was. Op hoërskool President was ek ‘n CSV leiertjie en toe voorsitter in Matriek. Ek het videos gedurende pouses gewys en baie maats het die Here Jesus aangeneem. Mejuffrou Mosterts was ‘n wonderlike mentor. Ek het sommer in die bus en op die speelgronde maats uitgedaag om Jesus aan te neem.

Toe het Mevrou Marie van Lingen ons toestemming gegee om haar klas voor skool vir gebed te gebruik. Dieter Berner en Stefan Potgieter het die gebedsgroep begin. Hulle het my gevra om voort te gaan daarmee wanneerr hulle nou uit die skool is. Dit was ‘n wonderlike uitdaging. Ons groepie voor skool het gegroei na 5 leerlinge. Later was ons bietjie meer. Ek het klein boodskappies gegee en dan het ons vir spesifieke sake gebid. Ek het prekies oor gebed begin navors, oor weergebore, oor hoe om Bybel te lees en so het ek later ‘n klomp temas deurgewerk. Die maats was honger vir meer en teen die einde van die jaar was ons 25.

My vriende Vaughn en Chris Koen het by my oorgevat toe ek universiteit toe is en die groep het aanhou groei. Die volgende jaar het Heini Berner en David Conrad oorgevat. Teen die tyd was daar nie meer plek in die klaskamer nie. Hulle het toe pouses in sirkels op die speelgrond gesit en bid… sowat 80% van die skool was daarby betrokke! Dit was herlewing!

Op universiteit het ek ook weer aanhou preek en toe ek ‘n onderwyser word toe preek ek nou eers!

Nou sit ek in ‘n dilemma. Kan ek toepas wat ek altyd gepreek het? Die lewe druk my nou van alle kante af en nou en dan sak my gemoed. Dan moet ek myself weer herinner oor hoe ek ander bemoedig het. Was dit alles net stories? Was dit soetsappige teorie?

Elija is God se magtige instrument op berg Karmel en hy bid vuur vanuit die hemel. Die volk kies om God weer te dien en die Baal profete word uitgewis. Net daarna hoor hy koningin Isebel wil hom voor donker dood hê. Hy skrik hom boeglam en hardloop weg. Waarnatoe? Suid! Hy hardloop vir ‘n week aaneen, genoeg tyd om te dink en te bepeins. Hy slaan neer onder die besembos en slaap soos ‘n klip. “Here, neem my lewe. Ek wil nie verder nie!” Die engel versterk hom en hy hardloop verder oor die grens in Arabië (Midian) in tot by die berg van Moses, berg Sinai. Arme Elija is moedverlore. Hy wil bedank. Genoeg gehad. Vat my nou hemel toe Here. Die bose magte in hierdie land is te groot. Isebel is te sterk.

Vriende, wat vra die Here hom toe? Die Here troos hom nie, Hy raas met hom. “Wat maak jy hier, Elija?” Die Here vra eintlik “Hoekom het jy al die pad hiernatoe gehardloop? Ek was saam met jou op Karmel berg. Ek was daar en gereed om NOG n wonderwerk te doen met My magtige regter hand. Hoekom het jy weggehol? ” Sien, hy hardloop na die berg waar Moses die Tien Gebooie gekry het. Hy hardloop nie na die Here toe nie. Hy hardloop na die WET toe.

Dis wat ek en jy ook doen. Ons gryp na wettiese reëls en regulasies. Ons gaan soek in die reëlboek wat het ek nou verkeerd gedoen? Waar het ek gevaal? Hoekom is ek ‘n mislukking? Stupid.

Het Elija nou regtig gedink Isebel sou anders reageer? Het hy regtig gedink God sal toelaat dat sy hom daardie aand doodmaak? Dis soos Petrus wat op die see staan en dan na die storm kyk en bang word. Die gebeure op berg Karmel was Elija se hoogte punt van al sy wonderwerke wat hy vir God gedoen het. Daar was promosie at op hom gewag het! Efesiërs sê ons moet ons staan vas staan. Dis een ding om die wapenrusting aan te hê maar ‘n ander ding on vas te staan. Staan jou man! Wanneer jy klaar geveg het, staan vas. Moenie weghardloop soos Elija nie…staan vas. Wag op die volgende opdrag. Die Here wil jou promofeer. Ai, ons mis dit keer op keer.

Ek dank die Vader vir baie vriende wat my so mooi bemoedig. Johan, staan vas.