Hier benede is dit niet
“Hier benede is dit niet”, het my ma altyd gesê. Moenie ‘n perfekte lewe verwag nie jy sal dit net in die hemel kry.
Mense het al van my perfekte opstelle verwag en wraggies daar is baie mense wat dit kan doen. Daar is baie kinders wat nie eers een dag van die hele jaar afwesig was nie “perfect attendance”, baie mooi! Pas getroude paartjies wil graag ‘n perfekte huwelik hê en perfekte ouers wees. Wel, gee dit jou beste skoot.
Met COVID het ons geleer hierdie wêreld is darm BAIE gebroke. Dan kyk mens na die politiek en al die gruwels wat ontbloot word en ons besef maar net weer dis gebroke mense in ‘n gebroke wêreld.
Ek het juis vandag heeldag geloop en huil. My hart is so seer oor die skielike heengaan van ‘n goeie vriend. Nog n COVID slagoffer. Die troos is dat hy ‘n kind van God was en nou alles sien wat ons maar net oor kan raai en wonder. Tog, sy gesin was heeldag in my gedagtes en as ek my weer kan kry dan loooop die trane weer. Dis darm vreeslik hartseer.
Die Here Jesus sit ook seker heeldag en huil. Dit maak saak wanneer mense ly. Ek dink aan die begrafnis van Lazarus toe Jesus gehuil het, saam gehuil het. Die enigste troos is as ons by Sy voete kom sit. Sommer net sit. In Sy teenwoordiheid kry ons troos en weer moed om aan te gaan, antwoorde en bietjie meer insig… maar dan moet jy darm geduldig sit; nie 5 minute sit nie. Sit lank.
Kan ons huil waaroor God huil? Word ons opgewonde waaroor God opgewonde word?
Kyk, hier in Alberton het ek ‘n aangename verrassing gekry! Sjoe, hier is pragtige dinge aan die gebeur onder die Christene! Hier is verskillende projekte wat mooi resultate wys en die prag daarvan is dat verskeie kerke saamwerk aan hierdie projekte. Jesus het een liggaam in Alberton. Almal wat hand is moet saamstaan en ordenlik hand wees. Die hand van God reik uit en help.
Iemand het sommer op whatsapp gereël dat ons sekere dae by sekere hospitale moet buite staan en bid. Niemand vra van watter denominasie is jy nie. Ons het gekom om te bid vir die dokters en verpleegsters wat raadop is en uitgeput is en emosioneel kapoet is. Ons bid vir die pasiënte wat wroegel en bang is en die dood alleen in die oë staar.
Is dit nie herlewing nie? Die nood en vrees laat ons terug hardloop na God. “Here help!” Ons keer terug na wat regtig saakmaak. Ons klim van ons troontjies af. Ons verootmoedig ons voor God die Skepper. Ons keer terug na God as ons eerste liefde.
Die Gees deel gawes uit en ons moet daarmee woeker.